Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 20 MAART 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

In die nuus vandag:

NUWE AMATEURRADIOREGULASIES VOOR DIE DEUR

RUSSIESE FEDERASIE AANVAAR CEPT-LISENSIëRING

SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM SE FINALE PROGRAM NOU OP DIE WEB

DRIE SUBKOMITEES VAN DIE SABS GAAN ASPEKTE VAN KOMMUNIKASIETEGNOLOGIE HANTEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NUWE AMATEURRADIOREGULASIES VOOR DIE DEUR

Volgens die SARL se kontakpersoon by OKOSA word verwag dat die OKOSA-Raad die finale regulasies tydens sy vergadering eerskomende Woensdag sal goedkeur. Dit beteken dat die nuwe regulasies en die tabel van frekwensietoekennings aan amateurradio eerskomende Vrydag, of die Vrydag daarna, in die Staatskoerant gepubliseer kan word. Watter van die aanbevelings van die SARL, wat tydens die publieke aanhoring bespreek is, ingesluit is, is onbekend. Die SARL se versoek vir inligting is afgewys.

RUSSIESE FEDERASIE AANVAAR CEPT-LISENSIëRING

Volgende op ’n besluit deur die Russiese Staatskommissie vir Radiofrekwensies om om aan te sluit by die CEPT se lisensieooreenkoms vir radioamateurs, behoort dit binnekort makliker te wees om amateurradiotoerusting te gebruik tydens besoeke aan die Russiese Federasie.

Die kommissie beplan om werkgroep R A van die CEPT van sy besluit in te lig. Werkgroep R A sal gedurende Mei en September vergader. IARU Streek 1 sê dat hulle dit as ’n groot voorwaartse stap beskou wat uiteindelik gebruik van amateurradio tydens reise wêreldwyd sal toelaat. CEPT-lisensiëring beteken dat alle lande wat hierdie aanbeveling aanvaar, ook elke ander land, wat die ooreenkoms aanvaar het, se lisensie aanvaar, maar onderhewig aan beperkings soos wat in die ander land mag geld. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die CEPT-ooreenkoms, en, met publikasie van die nuwe radioregulasies, word teruggekeer na volle wederkerigheid.

SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM SE FINALE PROGRAM NOU OP DIE WEB

Kan Suid-Afrika spoedig oor sy eie lanseringsfasiliteite vir satelliete beskik? Twee nuwe amateursatelliete wat in Suid-Afrika ontwerp en gebou gaan word, otvangerontwerp vir die SKA is op die voorpunt in Suid-Afrika en ‘RaDAR- Rapid Deployed Amateur Radio’- is slegs vier van die baie voordragte wat by die 2011 SA AMSAT se ruimtesimposium wat op Saturday 2 April 2011 by die Talk 100 Auditorium in Vodaworld in Midrand aangebied sal word.

Die simposium bied ’n platform vir bespreking en interaksie op verskeie aspekte van ruimte vir beide professioneles en amateurs wat belangstel in die baie fassinerende aspekte van ruimteaktiwiteite. Die simposium sal geopen word deur Dr Sandile Malinga, die HUB van die onlangs gestigte Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap met ’n sleuteltoespraak.

Om vir die simposium te registreer, besoek www.amsatsa.org.za vir besonderhede en die registrasievorm. Die besprekingskoste is R300 tot 26 Maart, daarna R350. Vir studente is registrasie R275. Hierdie bedrae sluit ’n middagete en verversings in.

DRIE SUBKOMITEES VAN DIE SABS GAAN ASPEKTE VAN KOMMUNIKASIETEGNOLOGIE HANTEER

Die tegniese komitee TC74 van die SABS het drie subkomitees in die lewe geroep met die opdrag om te werk aan standaarde vir kommunikasietoerusting. Komitee TC74D is vir amateurradio van besondere belang aangesien dit sy taak is om standaarde op te stel vir kommunikasiestelsels wat van die elektromagnetiese spektrum gebruik maak. TC74 sal as die oorsigtelike komitee bly voortbestaan.

Aan die KLK-front oorweeg Eskom die gebruik van kraglynkommunikasie in die frekwensiegedeelte tot 50 kHz vir afstandbeheer van die netwerk en vir metering. Lede van TC62, TC73, TC74 en TC80 sal binnekort byeenkom om te bespreek wat die proses sal wees wat gevolg moet word ten einde ’n standaard op te stel. Die kwessie van breëband-KLK word tans gehanteer deur ’n gesamentlike werkgroep van TC 73 en TC80. Hierdie werkgroep, genoemd WG6, is onder voorsitterskap van die SARL-verteenwoordiger, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV. Dit word as onwaarskynlik beskou dat die werk oor Breëband-KLT verskuif sal word na die groep wat lae frekwensie KLK hanteer.

Die terme KLK en KLT is verwarrend. OKOSA gebruik KLT vir die breëbandtoepassing terwyl in die kragbedryf die term KLK gebruik word. Die prinsiep van bedryf is dieselfde, dit is net die frekwensies wat gebruik word wat verskillend is.

KLK op lae frekwensie is nie ’n bedreiging vir amateurradio nie terwyl die hoë frekwensie weergawe potensieel ’n warboel op die HF-bande kan veroorsaak. Finale regulasies wag steeds op beoordeling deur die Raad van OKOSA. Alhoewel die konsepregulasies nie die uitkeping van amateurfrekwensie insluit nie, is daar aanvaarbare versagtende reëls ingesluit sou radioamateurs steurings van KLK ondervind.

VERANDERING IN DIE SARL SE RAAD

Louw Erasmus, ZS6LME, het uit die SARL se Raad bedank en het ook sy nominasie vir verkiesing tot die 2010/2011-Raad teruggetrek. SARL President, Dennis Green, het Louw se bedanking bekend gemaak op die strategiese indaba wat verlede week gehou is, het Louw bedank vir sy bydrae tot die SARL en amateurradio en het hom ’n voorspoedige toekoms toegewens.

AJV-DOKUMENTASIE

Die Algemene Jaarvergadering van die SARL sal tydens die Nasionale Konvensie op 16 April 2011 gehou word. Die agenda, finansiële verslae en ander AJV-dokumente is nou beskikbaar vir aflaai van die lede-alleen afdeling van www.sarl.org.za. Kies die knoppie vir lede alleen bo regs op die tuisblad en sleutel u P.I.N. in.

KOMPETISIENUUS

Die finale uitslae van die SARL se digitale kompetisie wat op 27 Februarie gehou is, is as volg:

1ste ZS6A, 494 punte
2de ZS6GRL, 443 punte
3de ZS6WR, 335 punte
4de ZS6AKU, 312 punte
5de ZS2I, 264 punte

Die wenner van die trekking vir die geluksprys is Peter Roos, ZS6PGR.

Veels geluk aan al die wenners.

Die volle besonderhede sal in HF Happenings gepubliseer word.

HAMNET GESIMULEERDE NOODKOMPETISIE 6 MAART, 2011:03:18:

Negentien logstate en een kontrolestaat is ontvang.

Puntetellings is as volg:

Enkeloperateur stilstaande mobiel:
ZS4N, 1 896 punte
ZR4DEF, 1 030 punte
ZS6AGF, 630 punte
ZS4BS, 228 punte

Single operator Base Station:
ZS5ML, 1 320 punte
ZS2A ,1 260 punte
ZS6YH ,1 200 punte
ZS6ADY, 1 100 punte
ZS5DU, 1 072 punte
ZS6ARQ ,1 005 punte
ZS2J, 882 punte
ZS6JDV, 780 punte
ZS6NJV, 465 punte
ZS4TW, 370 punte
ZS2EC, 350 punte
ZR6MS, 330 punte
ZR6DHC, 144 punte

Enkeloperateur draagbaar:
ZS2U, 738 punte
ZS6BNE, 396 punte

Daar was geen inskrywings vir multi-operateur draagbare stasies nie.

Wenner van die gelukstrekking is ZS2A.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak middelmatig is. Sonvlek 1 169 het met 'n reuse uitbarsting op die 16de Maart ons vaarwel toegeroep. Nuwe sonvlek 1 173 is in die Suidelike halfrond en besit tans nie die vermoë om sonfakkels te genereer nie. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting ongeveer 30 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Met die verhoogde sonaktiwiteit sal 10 m ook van tyd-tot-tyd verassings oplewer. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië is na sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is gedurende die aand moontlik. 15 en 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE

20 Maart - SARL BHF/UHF analoog- en digitale kompetisie nog aan die gang en eindig vanmiddag 12:00 SAT.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.
2 April - SA AMSAT se Ruimtesimposium by Vodaworld, bespreek nou by www.amsatsa.org.za.
15-16 April – SARL Nasionale Konvensie te Vaal Universiteit vir Tegnologie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003